Gedragskode van die Spel

ʼn Spel wat as ʼn doodgewone tydverdryf begin het, het verander in ʼn wêreldwye netwerk waarbinne reusestadions gebou, ʼn ingewikkelde administratiewe struktuur tot stand gebring en komplekse strategieë ontwikkel is. Rugby, wat die belangstelling en entoesiasme van allerlei mense ontlok, het verskeie kante en gesigte.

Rugby word wêreldwyd deur mense van alle ouderdomme met ‘n wye en uiteenlopende verskeidenheid agtergronde gespeel. Meer as 8,5 miljoen mense tussen die ouderdomme van ses en 60+ neem gereeld aan die spel deel. Die wye verskeidenheid vaardighede en fisieke vereistes wat vir die spel benodig word, beteken dat daar vir individue van elke vorm, grootte en vermoë 'n geleentheid is om deel te neem.

Behalwe die speel van die spel en die gepaardgaande ondersteuning daarvan, omvat rugby verskeie sosiale en emosionele konsepte soos moed, lojaliteit, sportmanskap, dissipline en spanwerk. Hierdie gedragskode doen, is om die spel te voorsien van ʼn kontrolelys waarteen die wyse waarop daar gespeel word en die gedrag geëvalueer kan word. Die doelstelling is om te verseker dat rugby sy unieke karakter beide op en vanaf die veld behou.

Hierdie gedragskode dek die basiese beginsels van rugby soos dit betrekking het op die speel en afrigting daarvan, en op die totstandkoming en toepassing van die reëls. Die hoop word uitgespreek dat die gedragskode, wat die reëls van die spel komplementeer, die standaarde sal stel vir almal wat by rugby betrokke is, op watter vlak ook al.

Integriteit is sentraal tot die wese van die spel en word deur eerlikheid en regverdigheid tot stand gebring.

Gedrag

Die legende van William Webb Ellis, aan wie die eer toegedig word dat hy eerste persoon was om ʼn voetbal op te tel en daarmee te begin hardloop, het hardnekkig die talle pogings tot wysiging van hierdie oorlewering sedert daardie geskiedkundige dag in 1823 by die Rugby-skool oorleef. Dat die spel rugby sy oorsprong het in ʼn daad van moedige verset, is heel gepas.

Met die eerste oogopslag is dit moeilik om die rigtinggewende beginsels te bepaal vir ʼn spel wat vir die toevallige waarnemer na ʼn massa teenstrydighede lyk. Dit is heeltemal aanvaarbaar om byvoorbeeld te sien dat uiterste fisieke druk op ʼn opponent uitgeoefen word om besit van die bal te verkry, maar om nie opsetlik of kwaadwillig besering te veroorsaak nie.

Dít is die grense waarbinne spelers en skeidsregters moet optree, en dit is die vermoë om hierdie fyn onderskeid te kan tref, tesame met beheer en dissipline, beide individueel en gesamentlik, waarop die gedragskode berus.

Gees

Rugby is baie van sy aantrekkingskrag verskuldig aan die feit dat dit beide volgens die letter en binne die gees van die reëls gespeel word. Die verantwoordelikheid om te verseker dat dít gebeur, is nie die verantwoordelikheid van slegs een persoon nie – dit behels afrigters, kapteins, spelers en skeidsregters.

Dit is deur dissipline, beheersing en wedersydse respek dat die gees van die spel floreer en, in die konteks van ʼn spel wat so fisiek uitdagend as rugby is, is dit die eienskappe wat die kameraderie en sin vir regverdigheid smee wat so noodsaaklik is vir die spel se voortgesette sukses en oorlewing.

Dit is dalk ouderwetse tradisies en deugde, maar hulle het die toets van die tyd deurstaan en, op alle vlakke waar die spel gespeel word, bly hulle steeds net so belangrik vir die toekoms van rugby as wat hulle nog altyd deur die lang en roemryke verlede van die spel was. Die beginsels van rugby is die fundamentele elemente waarop die spel berus en dit stel deelnemers in staat om onmiddellik die karakter van die spel en dit wat dit as sport onderskei te identifiseer.

Rugbymense het 'n passievolle entoesiasme vir die spel. Rugby genereer opwinding, emosionele gehegtheid en 'n gevoel van deel wees van 'n wêreldwye rugbyfamilie.

Oogmerk

Die oogmerk van die spel is om soveel moontlik punte teen die opponerende span aan te teken deur die bal te dra, uit te gee, te skop en te druk, volgens die reëls van die spel, in die sportgees daarvan en deur regverdige spel.

Wedywering en kontinuïteit

Die wedywering om balbesit is een van die sleutelkenmerke van rugby. Hierdie wedywering vind regdeur die wedstryd in ʼn aantal verskillende vorme plaas:

  • in kontak in algemene spel wanneer spel by skrums, lynstane, afskoppe en skoppe om spel te hervat.

Rugby voorsien 'n verenigende gees wat lei tot lewenslange vriendskappe, kameraderie, spanwerk en lojaliteit wat bo kulturele, geografiese, politieke en godsdienstige verskille uitstyg.

Hierdie wedywering word so gebalanseer dat beter vaardighede wat in die voorafgaande aksie getoon is, beloon word. ʼn Span wat byvoorbeeld geforseer word om uit te skop omdat hulle nie die spel aan die gang kan hou nie, word die ingooi in die lynstaan ontsê. Net so word die span wat die bal aanslaan of vorentoe aangee die ingooi in die daaropvolgende skrum ontsê. Die voordeel sal dus gaan aan die span wat die bal ingooi, hoewel dit weereens hier belangrik is dat daar by hierdie fasette van die spel regverdig meegeding kan word.

Dit is die doel van die span in besit om kontinuïteit te handhaaf deur deur die teenstanders balbesit te ontsê en op vaardige wyse vordering te maak en punte aan te teken. Versuim om dit te doen sal beteken dat besit aan die teenstanders afgestaan word hetsy as gevolg van tekortkominge aan die kant van die span in besit of as gevolg van die gehalte van die teenstanders se verdediging. Wedywering en kontinuïteit, wins en verlies.

Terwyl die een span streef om kontinuïteit van besit te handhaaf, streef die opponerende span daarna om vir besit te wedywer. Dit voorsien die noodsaaklike balans tussen kontinuïteit van spel en kontinuïteit van besit. Hierdie balans van wedywering en kontinuïteit is op vaste fasette sowel as algemene spel van toepassing.

Dissipline is 'n integrerende deel van die spel, op die veld en van die veld af, en word weerspieël deur nakoming van die reëls, die regulasies en die kernwaardes van rugby.

Die beginsels waarop die reëls van die spel gebaseer is, is:

ʼn Sport vir Almal

Die reëls voorsien aan spelers van verskillende liggaamsbou, vaardighede, geslagte en ouderdomme die geleentheid om op hul vlakke van vermoë deel te neem in ʼn gekontroleerde, mededingende en genotvolle omgewing. Dit berus by almal wat die spel speel om ʼn deeglike kennis en begrip van die reëls van die spel te hê.

Handhawing van Identiteit

Die reëls verseker dat rugby se onderskeidende kenmerke behoue bly deur skrums, lynstane, losskrums, losgemale, afskoppe en inskoppe. Net so ook die sleutelkenmerke met betrekking het tot wedywering en kontinuïteit – die agtertoe aangee, die aanvallende doodvat.

Genot en Vermaak

Die reëls verskaf die raamwerk vir 'n spel wat beide genotvol is om te speel en vermaaklik is om te kyk. Indien dit by geleentheid blyk dat hierdie doelwitte onversoenbaar is, word genot en vermaak verhoog deur spelers in staat te stel om vrye teuels aan hul vaardighede te gee. Om die korrekte balans te handhaaf, word die oog voortdurend op die reëls gehou.

Respek vir spanmaats, teenstanders, wedstrydbeamptes en diegene wat by die spel betrokke is, is van oorheersende belang.

Toepassing

Daar rus 'n oorheersende verpligting op die spelers om die reëls na te kom en die beginsels van regverdige spel te respekteer. Die reëls moet toegepas word op 'n wyse wat verseker dat die spel ooreenkomstig die spelbeginsels gespeel word. Die wedstrydbeamptes kan dit deur billikheid, konsekwentheid, sensitiwiteit en, indien toepaslik, bestuur bereik. Op hulle beurt is dit die verantwoordelikheid van afrigters, kapteins en spelers om die gesag van die wedstrydbeamptes te respekteer.

Rugby is van waarde as ‘n sport vir almal. Dit bou spanwerk, begrip, samewerking en respek vir mededeelnemers. Die hoekstene daarvan is, en was nog altyd:

  • Die genot van deelname Die moed en vaardigheid wat die spel vereis Die liefde vir 'n spansport wat die lewens van alle betrokkenes verryk Die lewenslange vriendskappe wat deur 'n gedeelde belangstelling in die spel gesmee word.

Dit is as gevolg van rugby se intense fisieke en atletiese kenmerke, en nie ten spyte daarvan nie, dat daar sulke wonderlike kameraderie voor en na wedstryde bestaan. Die lang tradisie van spelers van opponerende spanne wat mekaar se geselskap weg van die veld af en in ʼn sosiale konteks geniet, lê steeds aan die hart van die spel rugby.

Rugby het die professionele era voluit aangegryp, maar het die etos en tradisies van die ontspanningspel behou. In ʼn era waar menige tradisionele sportkenmerke afgewater of selfs betwyfel word, is die spel rugby met reg trots op sy vermoë om hoë standaarde van sportmanskap, etiese gedrag en regverdige spel te handhaaf.

Hierdie gedragskode sal help om daardie gekoesterde waardes te versterk.