Voorwoord

Die oogmerk van die spel is dat twee spanne van 15, 10 of sewe spelers elk, wat regverdig speel, volgens die reëls en in die sportgees daarvan, soveel moontlik punte aanteken deur die bal te dra, uit te gee, te skop en te druk, met die span wat die hoogste getal punte aanteken wat die wenners van die wedstryd is.

Die reëls van die spel, met inbegrip van die standaardstel variasies vir onder 19-, onder 10- en sewesrugby, is volledig en bevat alles wat nodig is om dit moontlik te maak vir die spel om korrek en regverdig gespeel te word.

Rugby is 'n sport wat fisieke kontak behels en hou dus, as sodanig, inherente gevare in. Dit is baie belangrik om die spel ooreenkomstig die reëls te speel en te alle tye spelers se welstand in gedagte te hou.

Dit is die verantwoordelikheid van spelers om te verseker dat hulle fisiek en tegnies voorbereid is om binne die reëls te speel en daartoe verbind is om ooreenkomstig veilige praktyke en vir genot deel te neem.

Dit is die verantwoordelikheid van diegene wat die spel afrig of onderrig om te verseker dat spelers voorbereid is om aan die reëls te voldoen, regverdig te speel en veilige gedrag te beoefen.

Dit is die plig van die skeidsregter om alle reëls in elke wedstryd regverdig toe te pas, met inbegrip van reëlproewe en variasies soos deur Wêreldrugby gemagtig.

Dit is die plig van die unies om te verseker dat die spel op elke vlak ooreenkomstig gedissiplineerde en sportiewe gedrag gespeel word.

Die beginsel van regverdige spel kan nie deur die skeidsregter alleen gehandhaaf word nie. Die verantwoordelikheid vir die nakoming daarvan rus ook op unies, klubs, ander geaffilieerde liggame, afrigters en spelers.

Elke unie moet 'n ontwikkelingsweg-program vir jong spelers tot stand bring. Deur hierdie program kan jong spelers gaandeweg op 'n geskikte tyd aan die verskillende fases van rugby bekend gestel word, wat aan hulle meer beskerming teen beserings bied. Die ouderdom en inhoud van hierdie program moet deur elke unie bepaal word, na gelang van die unieke kenmerke van die speelomgewing binne daardie unie.