Definisies

0-9

22
Die gebied tussen die doellyn en die 22-meterlyn, en tussen die grenslyne. Dit sluit die 22-meterlyn in, maar nie die doellyn of die grenslyne nie.

A

Aangee
'n Speler gooi die bal na of oorhandig die bal aan 'n ander speler.
Aanslaan
Wanneer ’n speler besit van die bal verloor en dit vorentoe gaan, of wanneer ’n speler die bal met die hand of arm vorentoe slaan, of wanneer die bal die hand of arm tref en vorentoe gaan en die bal die grond of ’n ander speler raak voordat die oorspronklike speler dit kan vang.
Aanvallende span
Die teenstanders van die verdedigende span in wie se helfte van die veld spel plaasvind.
Afgestuur
'n Rooikaart word aan 'n speler getoon, wat dan permanent uit die wedstryd uitgesluit word.
Afnemer
Die afnemer is die eerste spanmaat van die doodvatter wat by die doodvat aankom. Hulle moet op hulle voete bly om direk om die bal mee te ding. Indien hulle voorheen by die doodvat betrokke was, moet hulle die baldraer duidelik laat los voordat hulle om die bal meeding.
Afskop
Die metode om elke helfte van 'n wedstryd en die begin van elke periode van ekstra tyd met 'n skepskop te begin.
Afstamp
'n Toelaatbare handeling wat deur die baldraer uitgevoer word om 'n opponent af te weer die handpalm te gebruik.
Agterste voet
Die voet naaste aan 'n speler se doellyn in 'n skrum, losskrum of losgemaal.

B

Bal in losskrum haak
Wettige gebruik van 'n mens se voete om besit van die bal in 'n losskrum te probeer wen of behou.
Baldraer
'n Speler wat in besit van die bal is.
Besit
'n Individu of span in besit van die bal of wat poog om dit onder beheer te bring.
Bind
Om ʼn ander speler stewig om die lyf, tussen die skouers en die heupe, vas te vat sodat die hele arm, vanaf die hand tot die skouer, in kontak is.
Bloedbesering
Onbeheerde aktiewe bloeding.

D

Deelnemende spelers by 'n lynstaan.
hulle bestaan uit lynstaanspelers, een ontvanger van elke span (indien teenwoordig), die speler wat ingooi en 'n onmiddellike opponent.
Die veld
Die hele gebied wat op die velddiagram in Reël 1 aangetoon word.
Direk gevang
'n Bal wat gevang is sonder dat dit eers iemand anders of die grond geraak het.
Direk uitgeskop
Die bal word direk tot in die grens geskop sonder om eers in die speelgebied grond te vat of 'n speler of die skeidsregter te raak.
Doel
Die bal word vanuit die speelveld met 'n stelskop of 'n skepskop oor die teenstanders se dwarslat geskop.
Doelgebied
Die gebied tussen die doellyn, die doodlyn en die doelgrenslyne. Dit sluit die doellyn in, maar nie die doodlyn of die doelgrensgrenslyne nie.
Doelgrens
Die gebied langs die doelgebied, wat die doelgrenslyne en daarbuite insluit.
Doellyn
Die lyn aan beide eindes (en nie deel nie van) die speelveld.
Dood
Die bal is dood wanneer die skeidsregter die fluitjie blaas om spel te stop of ná 'n ongeslaagde doelskop.
Doodgevatte speler
'n Baldraer wat vasgehou en deur 'n doodvatter of doodvatters grond toe gebring word.
Doodlyn
Die lyn aan beide eindes (en nie deel nie van) die speelgebied.
Doodvat
Die metode om 'n baldraer vas te hou en daardie speler grond toe te bring.
Doodvatter
'n Opposisiespeler wat die doodgevatte speler hou en grond toe gaan.

F

Fase van spel
Skrum, lynstaan, losskrum of losgemaal.

G

Geelkaart
Die kaart wat deur die skeidsregter aan 'n speler getoon word om aan te dui dat die speler gewaarsku en tydelik geskors is.
Gespeel
Die bal word gespeel wanneer dit doelbewus deur 'n speler geraak word.
Grens
Die gebied langs die speelveld wat die grenslyne en daarbuite insluit.

I

Ingooilyn
Kyk ingooimerk.
Ingooimerk
'n Denkbeeldige lyn in die speelveld reghoekig met die grenslyn deur die plek waar die bal ingegooi word. Die ingooilyn kan nie binne vyf meter van 'n doellyn wees nie.
Ingooivlak
Die vertikale ruimte opwaarts vanaf direk bo die grenslyn of doelgrenslyn.

K

Kaptein
Die speler wat deur 'n span aangewys is om daardie span te lei, die skeidsregter te raadpleeg en opsies met betrekking tot die skeidsregter se beslissings te kies.
Koelkas
'n Aangewese plek buite die speelgebied waarbinne 'n tydelik geskorste speler moet bly.
Kortbroek
'n Broek wat by die middellyf begin en bo die knieë eindig, 'n rekbroekband en/of 'n vastrekveter het en wat nie aan die trui of onderklere vas is nie.

L

Losgemaal
'n Fase van die spel wat daaruit bestaan dat 'n baldraer en minstens een speler van elke span saamgebind en op hulle voete is.
Losskrum
'n Fase van die spel waar een of meer spelers van elke span, wat op hulle voete en in fisieke kontak is, saamkom om die bal, wat op die grond is.
Lugskop
Die speler laat val die bal doelbewus en skop dit voordat dit die grond raak.
Lyn deur die merk of plek
Tensy anders gemeld, 'n lyn parallel met die grenslyn.
Lynstaan
'n Lynstaan is 'n vaste faset wat bestaan uit 'n ry van minstens twee spelers van elke span wat wag om 'n gooi vanuit die grens te ontvang.
Lynstaanspelers
Die spelers in beide rye van 'n lynstaan.

N

Naby
Binne een meter.

O

Obstruksie
Wanneer 'n speler wat probeer speel onwettig belemmer en voorkom word om dit te doen.
Onbetwiste skrum
'n Skrum waarin die span wat ingooi sonder betwisting besit verkry, sonder dat enige van die spanne toegelaat word om van die merk af te stoot.
Onderklere
'n Onderkledingstuk wat die liggaam van die middellyf af bedek, met kort of geen bene nie, wat bo die knieë eindig en wat teen die vel of onder klerasie gedra word, en nie aan die trui of kortbroek vas is nie.
Onkant
'n Posisionele oortreding wat beteken 'n speler kan nie aan die spel deelneem sonder om aan straf blootgestel te wees nie.
Ontvanger
Die speler in 'n posisie om die bal te ontvang indien dit van 'n lynstaan af teruggeklap of aangegee word.
Oop spel
Die periode ná 'n afskop, skop om spel te hervat, vryskop, strafskop of vaste faset en voor die volgende fase, of die periode tussen fases van die spel, behalwe wanneer die bal dood is.
Op die voete
Spelers is op hul voete indien indien geen ander deel van die liggaam deur die grond of deur spelers op die grond ondersteun word nie.

P

Plaasvervanger
'n Speler wat 'n spanmaat as gevolg van 'n besering of om taktiese redes vervang.

R

GLOBALE REËLPROEFNEMING
Remvoet
Waar die haker een voet vorentoe in die tonnel posisioneer om met stabiliteit te help en aksiale lading te voorkom. Hierdie posisie moet regdeur die “Hurk”- (Engels “Crouch”) en “Bind”-gedeeltes van die skrumvorming-volgorde ingeneem word. Die voet moet slegs teruggetrek word nadat “Sak” (Engels “Set”) geroep is en daar vir die bal gehaak word.
Rooikaart
Die kaart wat deur die skeidsregter aan 'n speler getoon word om aan te dui dat die speler permanent van die wedstryd uitgesluit is.
Rustyd
Die periode tussen die twee helftes van die wedstryd.

S

Skepskop
Die bal word doelbewus uit die hand of hande op die grond laat val en geskop sodra dit die eerste keer van die grond af opwip.
Skoonvang
'n Metode om spel te staak en 'n vryskop te wen deur 'n opponent se skop in die vanger se eie 22 of in die doelgebied te vang en "merk" te skree.
Skop
’n Handeling wat uitgevoer word deur die bal met enige deel van die been of die voet te tref, behalwe die hak, vanaf die toon tot die knie, maar nie die knie ingesluit nie. ’n Skop moet die bal ’n sigbare afstand uit die hand of met die grond langs laat beweeg.
Skop om spel te hervat
Die metode om die spel met 'n skepskop te hervat nadat punte aangeteken of 'n drie gedruk is.
Skopring
Enige toestel wat deur die wedstrydorganiseerder goedgekeur is om die bal te ondersteun wanneer 'n stelskop geneem word.
Skrum
'n Vaste faset wat normaalweg uit agt spelers van elke span bestaan wat in formasie aan mekaar gebind is.
Skrumsone
Die gebied van die speelveld waar 'n skrum kan plaasvind.
Span
'n Groep spelers, gewoonlik 15, wat die wedstryd begin plus enige ander gemagtigde spelers.
Spanmaat
'n Ander speler van dieselfde span.
Speelgebied
Die speelveld plus die doelgebiede. Die grenslyne, doelgrenslyne en doodlyne is nie deel van die speelgebied nie.
Speelperk
Die speelgebied plus 'n ruimte daaromheen, wat as die omringende gebied bekend staan.
Speeltyd
Werklike tyd, uitgesonderd verlore tyd vir onderbrekings (kyk werklike tyd).
Speelveld
Die gebied tussen die doellyn en die grenslyne. Hierdie lyne is nie deel van die speelveld nie.
Speler op grond
Kyk "van die voete af".
Spelers se kleredrag
Enigiets wat spelers dra wat, om wettig te wees, aan Wêreldrugby se Regulasie 12 moet voldoen.
Steller
'n Speler wat die bal hou vir 'n spanmaat om dit te stelskop.
Stelskop
Die bal word geskop nadat dit vir daardie doel op die grond (of op 'n goedgekeurde skopring) geplaas is.
Straf
Die metode waarvolgens die spel ná 'n oortreding of onderbreking hervat word.
Strafdrie
Toegeken indien, na die mening van die skeidsregter, 'n drie waarskynlik gedruk sou gewees het (of op 'n gunstiger plek gedruk sou gewees het) indien dit nie vir vuilspel deur 'n opponent was nie.
Strafskop
Teen 'n span toegeken vir 'n ernstige oortreding.
Stywearm-doodvat
'n Onwettige doodvat waar 'n speler 'n stywe arm gebruik om die baldraer mee te slaan.

T

GLOBALE REËLPROEFNEMING
Tegniese Sone/Gebied
’n Aangewese gebied wat in Reël 1 aangetoon word, waar plaasvervangers, waterdraers en afrigters moet bly totdat hulle nodig is. In wedstryde met 'n spangrootte van 23 word slegs waterdraers in die tegniese sone toegelaat.
Trui
'n Hemp wat aan die boonste helfte van die liggaam gedra word en wat nie aan die kortbroek of onderklere vas is nie.
Tydelik geskors
Vir 'n gespesifiseerde periode van speeltyd van die spel uitgesluit, gewoonlik 10 minute.

U

Unie
'n Liggaam, deur Wêreldrugby goedgekeur, wat vir die organisering en speel van wedstryde binne 'n spesifieke geografiese gebied verantwoordelik is.

V

Van die voete af
Spelers is van hulle voete af indien enige ander deel van die liggaam deur die grond of deur spelers op die grond ondersteun word.
Vasgegryp
Gebind aan ʼn spanmaat voor kontak.
Vashou van die bal
Om in besit van die bal deur dit in die hand of hande of in die arm of arms te hou.
Veld-in
Binne die speelgebied, weg van die grenslyne.
Verby of agter of voor 'n posisie
Beteken met albei voete, behalwe indien die konteks dit ontoepaslik maak.
Verdedigende span
Die span in wie se helfte spel plaasvind.
Vinnige ingooi
'n Ingooi vanuit die grens wat geneem word voordat die lynstaan gevorm is. Die bal word ingegooi deur die span wat die bal in die lynstaan sou ingegooi het.
Vlieënde wigformasie
'n Onwettige tipe aanval wat gewoonlik naby die doellyn plaasvind, hetsy van 'n straf- of vryskop of in oop spel. Spanmaats is aan weerskante aan die baldraer vasgegryp in 'n wigformasie voordat hulle met die opposisie kontak maak. Dikwels is een of meer van hierdie spanmaats voor die baldraer.
Voordeel
'n Duidelike en werklike taktiese of gebiedsvoordeel wat ontstaan ná 'n oortreding deur die opposisie.
Vorentoe
Na die teenstanders se doodlyn toe.
Vorentoe gooi
Wanneer 'n speler die bal vorentoe gooi of aangee, m.a.w. indien die arms van die speler wat die bal aangee, vorentoe beweeg.
Vryskop
Toegeken teen 'n span vir 'n oortreding of aan 'n span vir 'n skoonvang.
Vuilspel
Vuilspel is enigiets wat ʼn speler op die speelperk doen wat teen Reël 9 is wat obstruksie, onregverdige spel, herhaalde oortredings, gevaarlike spel en wangedrag reguleer.

W

GLOBALE REËLPROEFNEMING
Wangedrag
ʼn Oortreding ingevolge Wêreldrugby se Regulasie 18 of die Wedstrydorganiseerder se ekwivalent daarvan.
Wedstrydbeamptes
Diegene wat die wedstryd beheer, gewoonlik bestaande uit 'n skeidsregter en twee assistentskeidsregters of grensregters, maar kan ook 'n televisiewedstrydbeampte en, in sewes, twee doelgebiedregters insluit.
Wedstrydorganiseerder
Administratiewe liggaam verantwoordelik vir die wedstryd, wat Wêreldrugby, 'n unie, 'n groep unies of enige organisasie wat deur 'n unie of Wêreldrugby goedgekeur is, kan wees.
Werklike tyd
Aaneenlopende verstreke tyd (kyk speeltyd).